Markus 9:14-29 – Hoe lank gebeur dit al met Hom?
Ons wil behoort en van betekenis wees
Ons het almal twee sterk en baie algemene menslike behoeftes. Ons wil êrens behoort en ons wil iemand van betekenis wees. Ons wil inpas in ‘n netwerk van verhoudinge en iets in daardie netwerk beteken. Ons het dus mense nodig wat ons aanvaar soos ons is. En ons het mense nodig vir wie ons belangrik is, in wie se lewe ons ‘n rol kan speel – en omgekeerd.
Dit is waarskynlik die kern van die probleem van ons land – dat mense, weens ons geskiedenis sowel as weens die vooroordele wat ons teenoor mekaar het, sukkel om te behoort, en om van betekenis te wees. Ons sukkel om ‘n gemeenskaplike identiteit te ontwikkel. Ons sukkel om ‘n ruimte te skep dat mense voel hulle hoort by mekaar, en dat hulle bydrae van betekenis geag word, van watter kant van die spektrum hulle ook al af kom.
Dit is nie anders in die kerk van die Here Jesus Christus nie. Ons wil aan ‘n geloofsgemeenskap behoort en ons wil iemand van betekenis in daardie gemeenskap wees. Ons wil saam die Here aanbid en saam die Here dien. Om dit op jou eie te doen, is moontlik, maar altyd ‘n bietjie van ‘n alleenpad.
Dit is immers waarom ons vandag hier in die erediens is. Ons is hier omdat ons voel ons hoort hier, of ten minste dat ons soek daarna om hier te behoort. En ons wil van betekenis wees hier, die idee kry dat ons gawes en ons talente en ons bydrae ‘n verskil maak.
Hier volg die hele erediens: Afrikaans (Word); English (Word); PowerPoint …