Pinkster 08 – Die bruilof van die Lam breek aan – Openbaring 19-20


“Ek kom gou!”
Tema: Die bruilof van die Lam breek aan
Pinkster 8 – Somerstrand Youtube 18:30 29 Mei 2020 

KYK DIE VIDEO – LAAI DIE BOEK AF

Verwelkoming

Baie welkom by die agste Pinksterdiens. Ons behandel die boek Openbaring.

Die eerste drie hoofstukke van Openbaring handel oor God se teenwoordigheid op aarde in die midde van die sewe gemeentes met die sewe briewe wat Jesus vir hulle stuur.

Die volgende agt hoofstukke – hoofstuk 4-11 – handel oor God op die troon wat deur die Here Jesus sy agenda met sy verlossende oordeel deur sewe seëls en sewe trompette uitvoer. Dit dek die hele tydperk van Jesus se hemelvaart tot by sy wederkoms.

Die volgende sewe hoofstukke – hoofstuk 12-18 – fokus op God se beskerming van sy kerk waarna Hy die kerk bevry van die bose Babilon deur die sewe bakke.

Vanaand fokus ons op die Bruilof van die Lam – hoofstuk 19-20.

  • Onthou die boek oor Openbaring: “Ek kom gou!” Gratis en verniet.
  • Like sommer nou die Youtube videokanaal op jou skerm. Dit is die rooi subscribe

Votum en Seëngroet

In die woorde van Johannes aangepas vir Somerstrand:

4Van Johannes aan die gemeente in Somerstrand. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom en van die sewe Geeste wat voor sy troon is.

5En van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene van die dooies, die heerser oor die konings van die aarde.

7Kyk, Hy kom op die wolke en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; en al die stamme van die aarde sal jammerlik oor Hom huil. Ja, amen!

Loflied

Lied 284 – Laat Heer u vrede deur my vloei

Gebed

Skriflesing en prediking

Universalisme

Daar is ‘n ontstellende lering wat wyd posgevat het in die wêreldkerk. Dit steek op talle plekke ook sy kop uit in ons kerk. Dit is die lering van die universalisme.

Dit is ‘n lering wat sê, alle mense is uitverkies – sommige weet dit, ander nie. As daar ‘n hemel is, sal almal daar wees. In elk geval is daar verseker nie ‘n hel nie. Want niemand sal daarheen gaan nie. Almal sal uiteindelik tot bekering kom. God sal sorg daarvoor.

Sommige sal nog verder gaan en sê die enigste hemel is in elke geval eintlik hier op aarde as ons mekaar goed behandel. Die enigste hel is dus ook hier op aarde as ons mekaar sleg behandel. Daar is geen hiernamaals nie.

Dit is egter onmoontlik om só ‘n lering te handhaaf as jy Openbaring lees. Daar is regdeur die boek ‘n kontras wat gehandhaaf word tussen die regverdiges en die goddelose, tussen die gelowiges en die ongelowiges, tussen die oordeel van God oor die sonde en die verlossing van die heiliges, tussen die hemel en die hel, tussen die bruid van die Lam en die prostituut Babilon, tussen die ewige lewe en die ewige dood.

Natuurlik is Openbaring ‘n boeiende en beeldryke boek wat uitdagende simboliek bevat. Maar, die visioene beskryf werklikhede. Dit is ook nie iets wat Johannes uitgedink het nie. Dit is iets wat vir hom gewys is, wat aan hom geopenbaar is.

En die bron hiervan is God self. Deur die Here Jesus en die Gees, uitgevoer deur die engele en hemelse wesens, waarin die kerk se gebede en getuienis ‘n groot rol speel, vestig God die Vader ‘n nuwe hemel en nuwe aarde.

Ek sal my plig versuim as ek jou nie waarsku teen die universalisme nie. Prominente teoloë en predikante handhaaf hierdie onbybelse lering. Sulke teoloë dien ‘n valse god met ‘n valse ideologie wat nie uit die Bybel kom nie, maar uit ‘n misleide hart. Hulle dink dat hulle mense ‘n guns doen deur net aanvaarding te preek, maar werk in die hande van die bose driemanskap van Openbaring. Hy is die groot misleier. En universalisme is een van die groot misleidings.

“The most brazen lie of all is the lie people tell themselves: “I have nothing to worry about from the wrath of God. My God is a God of love.” If that is your thought, your god is an idol.” (RC Sproul)

Dit is noodsaaklik om hierdie lering te verwerp met al die oortuiging waartoe jy beskik. En die boek Openbaring is waarskynlik die beste boek wat jou kan help om inhoud te gee aan jou oortuigings oor die hemel en die hel, die verlossing en die oordeel, die ewige lewe en die ewige dood.

Die bruilof van die Lam

Dieselfde model wat ek vir die sewe seëls, sewe trompette, en sewe bakke gebruik het, kan ‘n mens steeds herken in die wyse waarop Johannes hierdie siklus van sy visioene vertel.

Daar is die prentjie van God – hierdie keer as die Almagtige Koning wat heers – geteken. Daar is die agente wat hierdie keer baie direk onder die Hoofagent van God, die Here Jesus Christus self, optree. Trouens, meesal tree Hy alleen op. En daar is steeds die verlossende oordeel in ‘n reeks van kontraste. Die bruilof van die Lam versus die feesmaal van Armageddon. Die ewige lewe versus die ewige dood. Die hemelse stad Jerusalem versus die poel van vuur.

Maar, kom ons begin by die positiewe boodskap van vanaand. Want dit is hoe Johannes dit hierdie keer vertel. Hy begin wel met die visie op God, maar dan val hy direk weg met die verlossing, die wonderlike uitkoms wat God vir ons bedoel, Die bruilof van die Lam is sy pièce de résistance, die hoogtepunt en doel van ons verlossing. Die bruilofsfees met die bruidegom, die Here Jesus Christus.

Die bruilof van die Lam

5Daarop het ’n stem van die troon af uitgegaan en gesê: “Loof ons God, al sy diensknegte, en dié wat Hom vrees, die geringes en die magtiges.”

6Toe het ek iets gehoor soos die geluid van ’n groot skare en soos die geluid van baie water en soos die geluid van swaar donderslae wat sê: “Halleluja! Die Here, ons God, die Almagtige heers as koning.

7Laat ons juig en jubel en aan Hom die heerlikheid gee omdat die bruilof van die Lam gekom het, en sy bruid het haarself voorberei. 8En sy is gegun om fyn, helder skoon klere aan te trek.” Want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.

Let op die groot hoeveelheid klank waarmee dit beskryf word. Daar is die geluid van ‘n groot skare, die geluid van baie water, en die geluid van swaar donderslae. Dit is asof ‘n enorme waterval binne ‘n enorme stadion inval terwyl die skare juig en ‘n groot Hoëveldse storm dreun.

Die inhoud van die boodskap is dat God sy volle koningsheerskappy opneem. Die bruid van die Lam, die kerk, maak haar gereed om met Hom verenig te word. In skerp kontras met die prostituut Babilon wat verbrand en vernietig is, soos die vorige twee hoofstukke beskryf het.

En die bruid, die kerk, trek haar fyn, helder skoon wit klere aan, die regverdige dade van die heiliges. ‘n Groot kontras met die prostituut Babilon wat onreg en onsedelikheid soos ‘n magneet aangetrek en uitgedeel het.

Die Ruiter op die wit perd

11Ek het toe die hemel geopen gesien en kyk, ’n wit perd. En Hy wat daarop sit, word genoem die Getroue en Betroubare en Hy oordeel en voer oorlog met regverdigheid.

12Sy oë was soos ’n vuurvlam en op sy kop was daar baie krone. Hy het ’n geskrewe Naam wat niemand ken nie behalwe net Hy self.

13Hy het klere aangehad wat deurweek is met bloed, en sy Naam is: “Die Woord van God.”

14En die leërs wat in die hemel is, het Hom op wit perde gevolg, en hulle was geklee in fyn, wit helder klere.

15En uit sy mond het ’n skerp swaard gekom om die nasies daarmee te tref, en Hy sal hulle as ’n herder met ’n ysterstaf regeer (Psalm 2). Hy trap die wynpers van die woede van die toorn van God, die Almagtige.

16En op sy kleed, by sy heup, is ’n Naam geskryf: “Koning van die konings en Here van die heersers.”

Dan kom die Woord van God – dit is die Here Jesus Christus, die Hoofagent van God – op sy wit perd wat nie net regverdig sal oordeel nie, maar sal afreken met die leërs van die hemel twee van die bose driemanskap (die antichris en die valse profeet) en hulle magte (die draak se uitwissing kom in die volgende hoofstuk). Trouens, Hy het nie nodig dat iemand Hom help nie. Hy doen dit manalleen, God-alleen.

Die universaliste lees nie hierdie teks nie, want dit pas nie in hulle teologie in nie. Dit is waarom ‘n mens doodgewoon jou moet losmaak van hulle idees en jou met die Jesus van die Bybel besig hou, nie met die afgod van jou eie gedagtes nie.

Jesus word hier met agt Name of beskrywings voorgestel.

  1. Jesus Christus word voorgestel eerstens in sy rol as beide die Regter wat regverdig oordeel.
  2. Jesus is tweedens ook die Generaal wat met die swaard van sy mond die oorlog teen die Bose aanvoer.
  3. Sy karakter word beskryf as een wat derdens getrou is – die Getroue;
  4. en ook een wat vierdens die waarheid lief het – die Betroubare. Hy het ‘n ontsagwekkende voorkoms met oë soos ‘n vuurvlam en op sy kop nie net sewe of tien krone soos die draak of die dier uit die see nie (Openb. 12:3; 13:1), maar baie
  5. Jesus het ‘n vyfde geskrewe Naam wat niemand ken, behalwe Hyself nie (vgl Openb. 2:17; 3:12 waar dié gelowiges wat oorwin ook die voorreg kry). Dit beteken doodgewoon dat ons die diepte van die betekenis van daardie Naam nie kan peil nie.
  6. Maar, die sesde baie bekende Naam is dat Hy die Woord van God genoem word, soos alreeds in die Johannes evangelie aangetoon is (Joh. 1). Daarmee kan ons identifiseer. Dat sy klere deurweek is met bloed verbind Hom aan die vorige beeld van die wingerdoes (Openb. 14:14-20; vgl Jes 63:1-6) as die Regter en Generaal wat sy oordeel uitoefen.
  7. Jesus lei die leërs van die hemel in ’n groot oorlog op wit perde om sy heerskappy te vestig. Dit word deur sy vurige oordeel tot stand gebring. Hy is ‘n Herder, sy sewende beskrywing, maar met ‘n ysterstaf (vgl Ps. 2:9; Openb. 12:5).
  8. ‘n Agste besondere Naam is op sy kleed geskrywe wat Hom as die Koning van die konings en die Here van die heersers

Wat is die gevolg van hierdie oorlog wat Jesus teen die antichris en die profeet en hulle leërs voer?

‘n Grusame feesmaal

‘n Grusame feesmaal.

17Toe het ek een engel by die son sien staan en hy het met ’n kragtige stem uitgeroep en vir die voëls, wat hoog in die lug vlieg, gesê: “Kom hierheen, kom bymekaar by die groot feesmaal van God

18sodat julle die vleis van konings mag eet, en die vleis van militêre aanvoerders, en die vleis van magtiges, en die vleis van perde en hulle ruiters, die vleis van almal, vryes en slawe, geringes en magtiges.”

19Ek het ook gesien dat die dier en die konings van die aarde en hulle leërs saamgebring is om oorlog te maak teen die Een wat op die perd sit en teen sy leër.

20Die dier is toe gevang en saam met hom die vals profeet wat die wondertekens in sy teenwoordigheid gedoen het. Daardeur het hy dié wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het, mislei. Dié twee is toe lewendig gegooi in die vuurpoel wat brand met swael.

21En die res is doodgemaak deur die swaard wat uitgegaan het uit die mond van Hom wat op die perd sit. Al die roofvoëls het hulle versadig geëet aan hulle vleis.

’n Besondere engel – let op dat hy by of op die son staan! – kondig die vernietiging van die hele goddelose mensdom aan met die grusame beeld van ’n oproep aan die (aas)voëls van die hemel om aan die gesneuweldes in die oorlog te kom peusel. Die feesmaal word die “groot feesmaal van God” genoem. ‘n Grusame kontras met die bruilofsmaaltyd van die Lam.

Die maaltyd word voorberei uit al die dooies van die grootskaalse oorlog tussen die twee diere – die antichris uit die see en die valse profeet uit die aarde – aan die een kant en die Een wat op die perd sit, die Christus aan die ander kant. Dit lyk asof Hy alleen al die magte aanvat en oorwin.

Die magte van die antichris en die valse profeet word in die oorlog verwoes (waarskynlik Armageddon) en hulle “is lewendig gegooi in die vuurpoel wat brand met swael.”

En let op, die res van die mensdom is ook doodgemaak. Tragies. Maar, werklik. En uiteindelik word hulle ná die wit troon oordeel – wat nog kom – ook in die poel van vuur gegooi.

‘n Gebeure wat die dood in die pot is vir die universalisme.

Hierdie oorlog berei die weg voor vir die finale oorwinning oor die draak, die Satan.

Die binding van Satan en die duisendjarige vrederyk

Die oorwinning oor die Satan word in drie dele vertel

20:1Ek het toe ’n engel uit die hemel sien neerkom terwyl hy die sleutel van die bodemlose put en ’n groot ketting in sy hand hou.

2En hy het die draak vasgegryp, die slang van die oertyd wat die duiwel en die Satan is en hom toe vir duisend jaar vasgebind.

3En hy het hom in die bodemlose put gegooi, dit toegesluit en bokant hom verseël sodat hy nie verder die nasies sou mislei nie totdat die duisend jaar om is. Daarna moet hy vir ’n kort tydjie losgemaak word.

4Ek het ook trone gesien met mense wat daarop sit. Aan hulle is dit vergun om te oordeel. En ek het die siele gesien van dié wat onthoof is vanweë die getuienis van Jesus en die woord van God. Dit is hulle wat nie neergeval het om die dier en sy beeld te aanbid nie en wat ook nie die merk op hulle voorkop en op die hand ontvang het nie. Hulle het lewend geword en het as konings saam met Christus duisend jaar lank regeer.

5Die res van die dooies het nie lewendig geword totdat die duisend jaar om was nie. Hierdie is die eerste opstanding.

6Gelukkig en heilig is dié wat deel het aan die eerste opstanding. Oor hulle het die tweede dood nie volmag nie, want hulle sal priesters van God en van Christus wees en saam met Hom duisend jaar lank as konings regeer.

Die oorlog van die Lam teen die antichris en die valse profeet en hulle aanhangers word opgevolg deur die binding van die draak in die bodemlose put met ‘n groot ketting. Die draak word hier as die slang van die oertyd beskryf, die duiwel en die Satan wat deur ‘n engel vir ‘n duisend jaar vasgebind en verseël word, sodat hy nie verder die nasies sou mislei nie.

Met die onheilige drie, die antichris, die valse profeet en die Satan uit die weg geruim, breek die tyd vir die mense van Christus aan om te oordeel en vir die martelare om saam met Christus te regeer.

Let op dat dit lyk asof daar twee groepe genoem word in vers 4. Daar is mense wat op trone gaan sit om te oordeel. En daar is die siele van dié wat onthoof is vanweë hulle getuienis van Jesus en die woord van God en saam met Hom regeer. Hulle word verder geïdentifiseer as diegene wat nie neergeval het om die dier en sy beeld te aanbid nie. Hulle het ook nie die merk op hulle voorkop en op die hand ontvang nie.

Hierdie mense en martelare het deel aan ‘n eerste opstanding uit die dood vóór die res van die dooies lewendig sal word. Hulle regeringstyd beslaan ‘n 1 000 jaar saam met Christus vanuit die hemel en sluit ‘n oordeel in.

Johannes noem hulle gelukkig en heilig. Die tweede dood sal oor hulle geen mag hê nie. Hulle regeer as ‘n koninklike priesterdom van God en van Christus (vgl 1 Pet 2:9; Dan 7:9).

Die 1 000 jaar tydperk is wel ‘n simboliese getal, maar steeds ‘n beskrywing van ‘n werklikheid. Dit lyk asof dit iets wat ná die wederkoms geplaas moet word. As jy die teks van Openbaring ernstig neem.

Ek skryf meer hieroor in die boek om jou bloot te stel aan die verskillende verklarings deur die eeue hiervan. Teoloë probeer hierdie 1 000 jaar – die millennium – in een of ander sisteem plaas. Die amillennialisme, die post-millennialisme of die pre-millennialisme.

Ek het vir jare probeer om die teks in te pas by een of ‘n kombinasie van daardie sisteme. En opgegee. Ek vat dit nou net soos die teks dit sê.

Wegraping

‘n Kort woord oor die wegraping. Die idee van die wegraping kom nie in die Bybel voor nie. Dit is ‘n idee wat eers in die 1800’s na vore gekom het, en deur die Scofield Bible, Hal Lindsey en die Left Behind series gepopulariseer is. Dit het geen Bybelse basis nie en kan gerus eenvoudig geïgnoreer word.

Die enigste teks in die Bybel wat naastenby daarmee verbind kan word, is 1 Tessalonisense 4:13-17:

13Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie.

14Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring.

15Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie.

16Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.

17Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. (1 Tess 4:13-17)

As jy na die teks kyk, sal jy sien dat Paulus daar verwys na die ontslapenes wat in Jesus geglo het wat opstaan uit die dood en na die Here Jesus in die wolke geneem word. Dit verwys dus na iets wat ná die eerste opstanding uit die dood gebeur. Dieselfde gebeur met die gelowiges wat dan nog lewe. Hulle word saam met die opgestane ontslapenes na die Here op die wolke weggevoer om vir altyd by Hom te wees.

Dieselfde geld die tekste in die evangelies van die mense wat met die koms van die Here Jesus wat aangeneem en verlaat sal word. Daar sal twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat. Daar sal twee vroue by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat. (Matt 24:36-44)

Dit gebeur met die Wederkoms, nie vooraf nie, en verseker nie om mense uit die groot verdrukking te neem nie. Die groot verdrukking word as iets vóór die wederkoms van die Here Jesus beskryf (Matt 24:15-28).

Die finale oorwinning oor Satan

 Dit bring ons by die finale oorwinning oor Satan

7En wanneer die duisend jaar verstryk het, sal die Satan uit sy gevangenskap losgelaat word.

8Dan sal hy uitgaan om die nasies te mislei, dié wat tussen die vier uithoeke van die aarde is, die Gog en Magog, en hulle byeenbring met die oog op oorlog. Hulle getal is soos die sand van die see.

9Hulle het toe opgetrek oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel. Toe het daar vuur uit die hemel neergekom en hulle verteer.

10En die duiwel, die verleier van hulle, is toe in die poel van vuur en swael gegooi waar die dier en die vals profeet ook is. En hulle sal bedags en snags tot in alle ewigheid gepynig word.

Die 1 000 jarige vrederyk word opgevolg deur ’n finale oorlog van God teen die Satan – en die nasies wat hom volg – verteenwoordig deur die Gog en die Magog, oud-Israelitiese simbole van die vyande van die Godsvolk. Hulle veg teen die “laer van die heiliges” en die “geliefde stad,” simbole vir God se mense.

Gog en Magog

Esegiël 38-39 gee ‘n bietjie meer detail oor die Gog van Magog. Gog is in Esegiël ‘n simbool van al die vyande van die Godsvolk, die simbool van die aartsboelie, die mens/instansie/land wat hulle vreugde vind in die vernietiging van ander. Soos Taylor Gog beskryf: “the personified head of the forces of evil which are intent on destroying the people of God.” (Ezekiel). So vind ons dit inderdaad ook in Openbaring. Jy kan meer lees daaroor by my Bybelskool oor Esegiël.

Die punt is dat God van Gog en Magog ‘n offermaaltyd maak soos ons dit in Esegiël en Openbaring lees. Hy verbrand hulle met vuur.

Hieruit leer ons dat die oordeel van God ‘n grusame ervaring is. Dit is bedoel om af te skrik, om te waarsku, sodat mense tot bekering kom en nie die lot van God se teenstanders beleef nie. Uiteraard is dit alles metafore, maar dit is metafore wat ‘n werklikheid beskryf wat waarskynlik erger sal wees as maar net dat God se vyande deur ‘n fisiese vuur verbrand sal word.

Twee feeste

Soos Esegiël dit alreeds geprofeteer het, só stuur die hele geskiedenis van die mensdom af op hierdie twee feeste van Openbaring. Aan die een kant sal daar die fees van die bruilof van die Lam van God wees waar gelowiges die vrug van die Here Jesus Christus se lewe en bediening sal geniet (Openb. 19:5-10).  Aan die ander kant sal daar die fees van die roofvoëls wees waarin goddeloses self die maaltyd sal wees, die feesmaal van die goddeloses (Openb. 19:11-21).

Die een groep sal vreugde ervaar. Die ander verguising. Die keuse watter maaltyd jy bywoon, lê in geloof in die Here Jesus Christus. Kies daarom die bruilofsfees!

Die Satan, die verleier van die Gog en Magog, sê Johannes, eindig uiteindelik in dieselfde vuurpoel waar die antichris en die valse profeet reeds is, en waar hulle vir ewig en ewig gepynig sal word.

Die oordeel voor die groot wit troon

11Ek het ook ’n groot wit troon gesien met Hom wat daarop sit. Die aarde en die hemel het voor Hom weggevlug en daar was nie meer plek vir hulle te vind nie.

12En ek het die dooies, die belangrikes en die geringes, voor die troon sien staan en die boekrolle is oopgemaak. ’n Ander boekrol is ook oopgemaak, dit is die een van die lewe; die dooies is toe geoordeel op grond van die dinge wat in die boekrolle opgeteken is, volgens hulle dade.

13Die see het toe die dooies daarin teruggegee en die dood en die doderyk het die dooies wat daarin was, teruggegee. Elkeen is geoordeel volgens hulle dade.

14Toe is die dood en die doderyk in die poel van vuur gegooi. Dit is die tweede dood, die poel van vuur.

15En as daar gevind is dat iemand nie in die Boek van die Lewe opgeskryf is nie, is só ’n persoon in die poel van vuur gegooi.

Die finale groot “wit-troon” oordeel oor alle mense breek aan met die bestaande aarde en hemel wat wegvlug voor God op die troon.

Al die dooies word voor die troon versamel vir die oordeel. Die belangrikes en die geringes. Die dooies uit die see, en dié uit die dood en die doderyk. Al die boekrolle met hulle dade word oopgemaak, want dit is die basis waarop almal geoordeel word (vgl Matt. 25:31-40).

Die dood en die doderyk (Hades – vgl Openb. 6:8 se vaalgroen perd) is summier in die poel van vuur gegooi waar die onheilige driemanskap reeds is. Dit word as die tweede dood beskryf.

Saam met die boekrolle met almal se dade is die boekrol van die lewe egter ook oopgemaak, want dit is die uiteindelike basis waarop sommige in God se teenwoordigheid kan bly, en die ander nie. Dié wie se name nie in die Boek van die Lewe gevind is nie, is saam met die dood en die doderyk in die poel van vuur gegooi.

Let op dat niemand gered word deur die boekrolle van die dade nie. Vir dié wie se name in die Boek van die Lewe is, troef die genade egter die verdienste, alhoewel die regverdige dade steeds deel van die proses is (vgl ook 2 Kor. 5:10 en Rom. 10:14 waar daar sprake is van ‘n regterstoel van Christus / God vir gelowiges).

Die oordeel van God met die Boek van die Lewe is dus beslissend (vgl Ps. 69:29; Fil. 4:3; Open 3:5; 13:8; 17:8; 20:12,15; 21:27 – vgl. ook die gedenkboek van Mal. 3:16 waarin ook die name opgeskryf is van dié wat eerbied vir die Here het en waarde heg aan sy Naam)!

Die Boek van die Lewe herinner ‘n mens ook aan die ander boeke van God, onder andere die boek van die Waarheid in Daniël (Dan. 10:21), die boek waarin Dawid (gelowiges) se lewensdae opgeskryf is (Ps. 139:16), en die boek waarin Dawid (gelowiges) se trane opgeskryf is (Ps. 56:9).

Die tafel is gedek vir die nuwe hemel en die nuwe aarde. Die eerste hemel en die eerste aarde is tot niet. Die heilige stad, die Nuwe Jerusalem, daal uit die hemel van God af neer soos ’n bruid wat vir haar eggenoot versier is. Die woonplek van God is nou by die mense.

4Hy sal elke traan van hulle oë afdroog en die dood sal nie meer bestaan nie; nie rou en ook nie ’n smartkreet of pyn sal meer bestaan nie, omdat die vroeëre dinge verbygegaan het.”

Daarmee sluit ons Sondag af!

God skep hemel op aarde vir sy volk

Gebed

Pinkster is tradisioneel ‘n tyd van gebed. Jy is welkom om die video vir ‘n paar minute te stop en te bid. Eerstens in reaksie op die prediking. Tweedens vir ons gemeentes en kerk. Derdens vir ons land en die inperking. Vierdens vir julle eie lewe.

Bybelverspreiding

Jy kan jou bydrae vir Bybelverspreiding gee met Snapscan aan die einde.

Toewyding

Lied 442 – Gees van God wat in my woon

Seën

17En die Gees en die bruid sê: “Kom!”

En dié wat hoor, moet sê: “Kom!”

En dié wat dors het, moet kom.

Dié wat wil, laat hy die water van die lewe neem, verniet!

21Die genade van die Here Jesus is met julle almal.

En die gemeente sê: Kom!

Snapscan vir Bybelverpreiding

 

 

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.