Pinkster 03 – Bekeer jou – Openbaring 3

“Ek kom gou”
Tema: Bekeer jou
Pinkster 3 – Somerstrand Youtube 18:30 24 Mei 2020 

KYK DIE VIDEO – LAAI DIE BOEK AF

Verwelkoming

Baie welkom by die derde Pinksterdiens. Ons behandel die boek Openbaring. Ons is besig met die sewe briewe. Ons het in die tweede diens stilgestaan by Smirna. In hierdie derde diens staan ons stil by Laodisea.

Onthou die boek oor Openbaring: “Ek kom gou!” Gratis en verniet.

Kyk na die video by Youtube: VideokanaalLike sommer nou die Youtube kanaal op jou skerm. Dit is die rooi subscribe knoppie.

Votum en Seëngroet

In die woorde van Johannes aangepas vir Somerstrand:

4Van Johannes aan die gemeente in Somerstrand. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom en van die sewe Geeste wat voor sy troon is.

5En van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene van die dooies, die heerser oor die konings van die aarde.

Aan Hom wat ons liefhet

en ons verlos het van die sondes

deur sy bloed

6en ons ’n koninkryk gemaak het,

priesters vir God, sy Vader:

aan Hom behoort die heerlikheid

en die krag

tot in alle ewigheid. Amen.

7Kyk, Hy kom op die wolke en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; en al die stamme van die aarde sal jammerlik oor Hom huil. Ja, amen!

Verootmoediging

Lied 154 en 220 Kom nou tesaam | Met ons harte sing ons, Here

Skriflesing en prediking

Ek begin met die brief aan Filadelfia om as ‘n kontras te dien met die gemeente van Laodisea.

Filadelfia – Alaşehir – was bekend as ‘n sentrum wat ‘n groot rol gespeel het om die Griekse taal en denke te versprei.

Die gelowiges het egter ‘n gemeente gevorm wat op ‘n veerkragtige manier die Christelike geloof versprei het. Hulle sou spesifiek effektief raak in hulle bediening aan die Jode.

Filadelfia het dieselfde tipe heidense omgewing gehad as die ander gemeentes. Die beskermheer en god van die stad was Dionisos, die god van wyn. Daar was ook ‘n tempel ter ere van keiser Tiberius waarvan ons by Jesus se geboorte lees (Luk 3:1). Filadelfia was dus in ‘n heidense omgewing waarin die afgode en die keiseraanbidding die publieke verbeelding gevorm het.

Die gemeente het hulle egter nie daardeur laat afsit nie. Hulle het hulle aan die Here verbind, man en muis, en in alles aan Hom en sy woord gehoorsaam geleef.

In sy brief aan hulle belowe die Here dat Hy die deure sal oopsluit vir hierdie mense wat kies om aan Hom gehoorsaam te wees.

En ons moet dit in konteks sien:

  • Jesus gaan by die leerstellige, suiwer gemeente van Efese verby, want hulle het hulle eerste liefde verloor. Hulle moet eers tot inkeer kom in hulle liefde vir Hom.
  • Jesus gaan by die liberale Pergamum-gemeente verby, want hulle het valse leringe toegelaat. Hulle sal ‘n onderskeid moet maak tussen dié valse leraars en dié wat aan die Woord gehoorsaam wil lewe.
  • Jesus gaan ook by die korrupte Tiatira verby, want hulle het in onsedelikheid verval. Met hulle kan Hy min uitrig, want hulle losbandigheid het hulle geestelike ore doof gemaak vir sy Woord.
  • Uiteraard gaan Jesus ook by die doodse Sardis verby, want daar gaan niks aan nie. Wel, totdat hulle tot inkeer gekom het, want, soos ons vroeër gehoor het, het Mileto ‘n oop deur gehad.

Die punt is, solank ‘n gemeente verdeeldheid oor die boodskap van die evangelie ervaar, kan daar geen effektiewe getuienis na buite toe wees nie. Diversiteit in standpunte is die dood in die pot vir ‘n gemeente en ‘n kerk.

Net soseer is dit waar dat solank ‘n gemeente wêreldgelykvormig leef – sodat jy later nie meer weet of jy met ‘n kerk of ‘n klub te make het nie – is dit beter dat niemand daar buite iets van hulle af hoor nie. Die boodskap gaan nie helder oorkom nie.

  • Gee vir die Here ‘n arm gemeente wat getrou bly, soos Smirna en Hy kan hulle voorbeeld gebruik om sy naam te eer; deur hulle lyding lewe bring vir ‘n verloregaande wêreld.
  • Gee vir die Here ‘n gehoorsame gemeente, soos Filadelfia, en Hy kan hulle gebruik om die evangelie die wêreld in te stuur; die grense van geloof te versit.

Nou lees ons van ‘n gemeente waar dit baie sleg gegaan het, die gemeente van Laodisea:

Aan die gemeente in Laodisea

14Skryf aan die engel van die gemeente in Laodisea: Dit sê Hy, die Amen, die getroue en ware getuie, die begin van God se skepping:

15Ek ken jou dade, dat jy nie koud en ook nie warm is nie. Was jy maar koud of warm!

16Maar nou – omdat jy louwarm is en nie warm of koud nie – staan Ek op die punt om jou uit my mond te spoeg.

17Want jy sê: “Ek is ryk en skatryk en het aan niks ’n behoefte nie,” en jy weet nie dat jy ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.

18Ek raai jou aan om van My goud te koop wat deur vuur gesuiwer is sodat jy ryk mag wees en wit klere dat jy jou kan aantrek sodat die skaamte van jou naaktheid nie aan die lig kom nie, en ook salf om aan jou oë te smeer dat jy kan sien.

19Dié wat Ek liefhet, bestraf en dissiplineer Ek; wees steeds dan ywerig en bekeer julle.

20Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan by hom en saam met hom ’n ete geniet en hy met My.

21Die een wat oorwin, sal Ek gee om saam met My op my troon te sit net soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.

22Wie ’n oor het, moet luister na dit wat die Gees aan die gemeentes sê.

Die stad Laodisea

Die stad Laodisea is 250 jaar vC gebou, die laaste stad op die antieke posroete van Klein-Asië. Een van die drie stede in die Likusrivier-vallei, saam met Hiërapolis (10 km noord) en Kolosse (16 km oos), was ongeveer 65 km suidoos van Filadelfia geleë.

Ná ‘n groot aardbewing in 600 nC is Laodisea verwoes. Die ruïnes van die stad is naby die dorp Eskihisar. En ‘n nuwe stad wat vandag Denizli genoem word, is daar langsaan gebou.

Laodisea was ‘n belangrike handelsentrum. Die mense was welvarend en voorspoedig, ‘n spilpunt vir die bankdienste in die streek. Die stad het ook in die vervaardiging van sagte, swart wol gespesialiseer waarvan luukse klere en matte gemaak is. Die stad was daarby ‘n leier in antieke medisyne. ‘n Mediese skool in die omgewing het ‘n oogsalf ontwikkel wat oral in die Grieks-Romeinse wêreld verkoop is.

Hulle watervoorsiening was egter uiters swak.

  • Die nabygeleë Hiërapolis was bekend vir sy natuurlike warmwaterbronne.
  • Aan die ander kant was Kolosse wat ‘n standhoudende, koue, natuurlike rivier gehad het. Laodisea se naaste waterbronne was egter besoedel of ontoereikend.

Om die probleem te bowe te kom, het Laodisea ‘n ondergrondse akwaduk gebou om water vir die stad te lewer van die Denizli-bronne. Maar op die roete van 8 km deur klip- en kleipype, het die water vuil en onaangenaam by die stad aangekom. Dit was nóg warm nóg koud. Die sentrale reservoir in die stad was gevolglik vuil en onwelriekend.

En dit is by hierdie werklikheid waarby Jesus aansluit.

Beskrywing van Jesus

Jesus begin sy brief met ‘n beskrywing van Homself. Hy is die Een wat getrou was aan sy lewenstaak, getrou in sy getuienis, getrou in sy skeppingswerk. Hy kan hulle dus aanspreek oor hulle louwarm dade, want Hy het enduit gedoen wat Hy moes doen.

Jesus is die Amen. Die Een wat beveel en dit geskied.

Jesus is die getroue en ware getuie. Hy het nooit iets anders gesê as wat God Hom gegee het om te sê nie. Hy het altyd die waarheid gepraat. Selfs al het dit Hom sy dood gekos.

Jesus is ook die begin van God se skepping. Trouens, Hy was die Woord wat God in die skepping gebruik het (Joh 1).

Beskrywing van die gemeente

Vanuit hierdie beskrywing van Jesus spreek Hy die gemeente aan oor hulle dade. En hulle skiet erg tekort:

  • Efese se dade was bó verdenking – saam met hulle inspanning en volharding – al was dit nie genoeg nie, weens die feit dat hulle hulle eerste liefde verlaat het. Die liefdelose gemeente.
  • Tiatira se dade was aan die groei – saam met hulle liefde, geloof, diens en volharding – al was dit nie genoeg nie, omdat hulle in afgodery en onsedelikheid verval het. Die korrupte gemeente.

Laodisea se dade was egter nóg hier, nóg daar; nóg koud, nóg warm. Soos Sardis was hulle dade doodgewoon net nie goed genoeg nie.

Miskien het jy al die idee gehoor dat dit beter sou wees dat hulle koud was. Want, as hulle geestelik koud was, dan kon hulle nog tot bekering gelei word.

Maar, dit is nie wat daar staan nie. Jesus sê, was julle maar koud of warm!

Jesus verwys hier na iets wat die mense van Loadisea goed geken het – hulle watervoorsiening.

  • Die water van Laodisea was nie so lekker koud soos dié heerlike koue waterbronne van Kolosse nie, ongeveer tien km oos van hulle af.
  • Die water van Laodisea was ook nie so warm soos die heerlike warm waterbronne van Hiërapolis nie, so tien km noord van hulle.

Laodisea se water het van die Denizli-bronne gekom en nadat dit oor ’n kalkkrans gestort het, louwarm en onsmaaklik by hulle aangekom. Nie koud nie. Ook nie warm nie. Louwarm.

  • Kyk, ‘n beker koffie wat lekker warm is, smaak vorentoe. Só ook ‘n koppie sop.
  • En ‘n beker koue water, les jou dors.
  • Maar louwarm koffie, of louwarm water, is nie lekker nie.

Net so hou die Here nie van mense wat louwarm is nie. Wat nie warm of koud is nie. Hulle deug nie vir sy doeleindes nie.

Beskrywing van hulle dwaling

Wat doen die Here met mense wat geestelik lou is? Hy spoeg hulle uit sy mond uit. Soos louwarm koffie of water.

Hulle kon wel trots wees op hulle materiële voorspoed – Laodisea was een van die rykste kommersiële sentrums in die wêreld – maar hulle het nie hulle geestelike louheid, hulle geestelike armoede, raakgesien nie.

Hulle geestelike lewe was in skerp kontras met Jesus, die Een wat beantwoord het aan sy doel, en in die oortreffende trap!

Waarskuwing of bemoediging

Daarom raai Jesus hulle aan:

  • Om eerder ryk in God te word – suiwer goud van Hom te koop.
  • Om onberispelik te lewe – wit klere om hulle onsedelikheid te bedek.
  • Om in geestelike insig toe te neem – salf vir hulle oë te koop.

Dit was metafore wat spesifiek op die drie uitstaande kenmerke van die stad gemik was – die bankwese, die klerebedryf, en die mediese skool.

Laodisea was bekend vir hulle bankwese, vir die klerebedryf, veral vir hulle swart wol industrie, en die salf van hulle aptekersbedryf. Dié salf is veral geassosieer met die beroemde oogkundige Demosthenes Philalethes.

  • Jesus sê hiermee dat al die geld in die wêreld niks beteken, indien hulle nie ryk in God is nie. Hy praat hier van hulle geloof wat so kosbaar is soos goud, soos Petrus op ‘n plek skryf (1 Pet. 1:6-7).
  • Hulle moenie trots wees op hulle swart wolklere nie, maar eerder op die wit klere wat Jesus gee om hulle onreinheid en onsedelikheid te bedek.
  • Hulle moenie hoogmoedig wees oor die oogsalf waarvoor hulle bekend is nie, maar eerder vra vir die geestelike insig wat net Jesus kan gee.

Die oplossing was om God ywerig te begin gehoorsaam, aan sy stem gehoor te gee, die geestelike deur van hulle persoonlike en gemeentelike lewe vir Hom oop te maak en in gemeenskap met Hom te leef.

Elkeen wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek!

Natuurlik kon Laodisea aanstoot neem aan hierdie skerp boodskap. Wat eintlik die dinge waarop hulle in hulle stad trots was, gebruik om hulle aan te spreek. Wat nog te sê, hulle te herinner aan die water wat hulle geweet het nie lekker gesmaak het nie.

Jesus verduidelik egter vir hulle hoekom Hy so skerp is: “Elkeen wat Ek liefhet (phileō), bestraf en tugtig Ek!” Jesus sê hiermee dat Hy met hulle geassosieer is, dat Hy hulle Here is, en daarom doen Hy die moeite om hulle aan te spreek. Dit is wat die Vader met sy kinders doen.

Trouens, tugtiging is ‘n teken van God se teenwoordigheid in jou lewe:

  • Spreuke 3: “12 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, ja, soos ’n vader die seun in wie hy behae het.” (Spr. 3:12)
  • Hebreërs 12: “‘My seun, moenie die tugtiging van die Here geringskat nie en moenie moedeloos word wanneer jy deur Hom bestraf word nie; 6 want die Here tug dié wat Hy liefhet, en Hy straf elke seun wat Hy aanneem.’” (Hebr. 12:5-6).

Aansporing en belofte aan dié wat oorwin

Dan kom Jesus by die eintlike ding wat hulle hele lewe sal verander – dat Hy by die deur is, en klop:

“As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek instap by hom en saam met hom eet en hy saam met My.”

Hierdie boodskap is gerig aan die hele gemeente, maar die fokus is op enigiemand wat bereid is om te luister. Dit is net dié wat luister, wat oopmaak vir die stem van die Here Jesus, wat uiteindelik met Hom gemeenskap sal hê. Hy sal instap en saam met hom eet.

Jesus nooi ons hiermee uit tot ‘n aktiewe gemeenskap met Hom. Dit is hoe ons begin om aan ons doel te beantwoord. Soos warm koffie. Of koue water.

Enigiemand wat luister, sal ervaar dat Jesus instap en sy intrek by hom of haar neem. Selfs al is dit ‘n boodskap wat deur die gemeente geïgnoreer word.

Ek staan by die deur en Ek klop

‘n Mens sou die vraag kon vra, hoekom Johannes dié sewe briewe afsluit met die brief aan Laodisea? Hoekom nie dit só skryf dat ‘n mens die boodskap aan Smirna of Filadelfia in jou gedagte kan hou nie? Die gemeentes wat volhard het, wat getrou was, wat ‘n belofte van oorwinning gekry het, wat ‘n oop deur vir die evangelie gekry het?

Die rede is dat die laaste uitnodiging van Jesus vir alle tye betekenisvol is. Dat Hy eintlik by elke gemeente se deur staan en vra om in te kom. Vir Laodisea sal dit beteken dat hulle weer die warmte van God se teenwoordigheid sal ervaar. Vir Efese sal dit beteken dat hulle die eerste liefde weer herontdek. Vir Sardis sal dit beteken dat hulle weer sal herleef uit hulle doodse gemeentewees. Vir Pergamum en Tiatira sal dit beteken dat hulle van die skande van dwaalleer verlos sal word.

Hulle sal ervaar wat vir Smirna en Filadelfia al reeds ‘n werklikheid geword het. Dat die Here reeds daar is juis in hulle vervolging, en hulle die oorwinning sal laat behaal. Dat Hy die deur vir die evangelie oopmaak, soos hulle die deur vir Hom oopgemaak het.

Het jy al op hierdie roepstem gereageer?

Gebed

Pinkster is tradisioneel ‘n tyd van gebed. Jy is welkom om die video vir ‘n paar minute te stop en te bid. Eerstens in reaksie op die prediking. Tweedens vir ons gemeentes en kerk. Derdens vir ons land en die inperking. Vierdens vir julle eie lewe.

Dankoffer

Jy kan jou dankoffer nou gee met Snapscan.

Toewyding

Lied 442 – Gees van God wat in my woon

Seën

17En die Gees en die bruid sê: “Kom!”

En dié wat hoor, moet sê: “Kom!”

En dié wat dors het, moet kom.

Dié wat wil, laat hy die water van die lewe neem, verniet!

21Die genade van die Here Jesus is met julle almal.

En die gemeente sê: Kom!

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.