WordPress is tans die verstekkeuse vir webtuistes
Hoewel WordPress aanvanklik meer vir blogs gebruik is, is dit vandag ’n volledige Content Management System (CMS). Daar is reeds 19 miljoen (28/05/2018) WordPress installasies wêreldwyd en dit vermeerder by die minuut. Al hoe meer groot maatskappye gebruik dit. Om die waarheid te sê, meer as 50 % van alle webtuistes is daarmee ontwikkel, wat dit tans die grootste CMS maak.
Die 2 primêre redes vir WordPress se gewildheid is:
- OPDATERING: die gemak waarmee die webtuiste in terme van die kern sagteware sowel as die plugins opgedateer kan word, asook,
- ADMINISTRASIE: die gemak waarmee eerste gebruikers die administrasie kant van die webtuiste kan baasraak.
Ander gewilde CMS weergawes soos Joomla! en Drupal, het weliswaar meer funksionaliteite, maar ongelukkig ook ’n baie steiler leerkurwe, wat die toenemende gewildheid van WordPress verder verklaar.
WordPress is in Mei 2003 bekendgestel as ’n ontwikkeling van b2/cafelog deur Matt Mullenweg, beskikbaar by wordpress.org. WordPress is open source sagteware, daarom hoef ’n mens nie daarvoor te betaal nie. ’n Hele gemeenskap van mense regoor die wêreld werk met die programmering en ontwikkel plugins vir die sagteware.
WordPress het tans ’n lys van 55,262 Plugins (28/05/2018). Daar is ook ’n parallelle ontwikkeling by wordpress.com waar jy die WordPress sagteware kan gebruik en waar jy ook jou webtuiste kan huisves. Dit is perfek vir blogging, maar nie vir ’n volledige CMS tipe pakket nie.
Woon ‘n Webtuiste kursus in WordPress by
Van tyd tot tyd bied ek ‘n kursus in webtuiste ontwikkeling vir gemeentes aan wat die volgende behels:
- bekostigbare en betroubare huisvesting vir die webtuiste;
- ‘n wegspring WordPress installasie vir die webtuiste, wat vinnig en liggewig is, die nuutste web tegnologie sowel as ‘n kommersiële template gebruik, en ook goed vertoon op selfone en tablette;
- praktiese opleiding in die verdere ontwikkeling van die webtuiste (uitleg, plugins, themes, opdatering, administrasie ensomeer wat beskrywing van die onderskeie plugins, en bv. voorbeelde van widgetkit insluit;
- ‘n forum vir ondersteuning;
- ‘n paar opsies van voortgaande ondersteuning, volgens ooreenkoms.
Besoek Webtuiste-ontwikkeling vir meer inligting of e-pos my.
Waarmee werk ‘n mens in WordPress?
WordPress het ’n eenvoudige struktuur. Dit het die publieke sigbare webtuiste waar gebruikers toegang kry tot jou inhoud, en ’n administrasie gedeelte, waar die webtuiste se funksionaliteit bestuur word (normaalweg bereikbaar met die adres www.domeinnaam/wp-admin) deur die skep van inhoud en die bestuur van plugins en themes.
Jy kan die volgende inhoud vir die webtuiste met WordPress skep:
- Pages – statiese inligting, wat met plug-ins aangevul kan word;
- Posts – dinamiese inligting wat outomaties wys soos jy dit skep;
- Media – grafika, Pdf’s, Word lêers, videos, audio ensomeer wat ook afgelaai kan word;
- Links – om allerlei skakels mee te definieer;
- Categories en Tags waarmee jy die inhoud kategoriseer vir aanbieding op die webtuiste;
- Comments – die brood-en-botter wat die interaksie van ’n WordPress installasie vorm;
- Widgets – uitgebreide maniere om inligting te vertoon of sekere funksies te verrig, bv galerye, RSS, inskrywings, kategorieë, argiewe, aanlyn-winkels, en vele meer;
- Menus – die standaard manier om jou webtuiste se inligting deur navigasie toeganklik te maak.
Dit gee vir jou ’n uiters buigbare platform om jou webtuiste te ontwikkel.
Wat het jy nodig?
Hier is ’n paar van die programmatuur wat jy nuttig sal vind in jou werk met webtuistes:
- Text editor – Ek gebruik Notepad++. Dit is belangrik as ’n mens met kodes werk wat nie deur formatering van bv. Word gekontamineer mag word nie.
- Zip/unzip program – Ek gebruik 7-zip. Dit is beter as die standaard een wat met Windows kom.
- FTP program – Ek gebruik Filezilla. Hiermee kan jy jou webtuiste by jou huisvestigingsmaatskappy bereik om met die files op die server self te kan werk.
- Graphics program – Ek gebruik Photoshop, maar jy kan bv. met Irfanview werk. Installeer dit as jy nie so iets het nie, of gebruik die graphics program wat jy verkies (Aviary, Gimp en Picasa is ook gewilde programme).
- Wampserver: – Dit is opsioneel. Jy kan dit gebruik om ’n WordPress installasie op jou rekenaar self te installeer.
Nuttige WordPress skakels
Belangrike skakels om jou vaardighede in WordPress verder te ontwikkel:
- Tuisblad van WordPress.
- Wat is WordPress? Lees meer daaroor hier.
- WordPress dokumentasie.
- Besoek die forums.
- Plugins.
- Vir ’n paar tutorials.
- Vir ander themes (WordPress.org het natuurlik self honderde), kyk by Themeland.